Werkgewers het ‘n groter verantwoordelik
10 October 2013 | Employee Benefits | General | Sanlam
Suid-Afrika se werkgewers het ‘n noodsaaklike rol om te speel om die tekort in die land se aftree-beleggings op te los. Dit is die gevolgtrekking waartoe Sanlam kom na die ontleding van die 2013 peilingsresultate. Hierdie peiling is Suid-Afrika se omvattendste jaarlikse navorsingstudie oor die aftreebedryf.
Alles is nog dieselfde
Dawie de Villiers, wat onlangs as Uitvoerende Hoof van Sanlam Werknemervoordele aangewys is, sê die geweldige gaping tussen die bedrag nodig vir aftrede en die beskikbare fondse is goed gedokumenteer en die Nasionale Tesourie beskou dit as ‘n sleutelprioriteit. "Ons navorsing sê die kwessies duur ongelukkig voort - 51 persent van pensioenarisse wat aan die peiling deelgeneem het, kan nie hulle finansiële verpligtinge nakom nie en 62 persent van mense wat van werk verander, bly steeds in gebreke om vir aftrede te spaar, ondanks al die waarskuwings,” sê De Villiers.
Maar met die Tesourie se planne wat eers in 2015 in werking sal tree, is Sanlam van mening dat die navorsingsbevindings dui op ‘n groter verantwoordelikheid vir werkgewers. "Volgens die hoofbeamptes van onafhanklike aftreefondse raadpleeg 47 persent van lede die menslike hulpbronne-afdelings van hulle werkgewers reg deur hulle loopbane en 32 persent vra vir advies by aftrede. Maar slegs 52 persent van werkgewerfondse het ‘n formele strategie om finansiële advies aan aktiewe lede te gee (?f die fonds op sy eie ?f in oorleg met die werkgewer). Boonop het slegs 26 persent ‘n ingeboude preserveringstrategie as ‘n verstekopsie wat die tendens van werknemers om hulle aftreegeld te spandeer wanneer hulle bedank of afgedank word, laat voortduur,” sê De Villiers.
‘n Lang pad
" ‘n Werknemer se aftree-reis begin op die dag wanneer hy of sy begin werk en hou vir die res van sy lewe aan. As mens in ag neem dat aan die einde van ‘n persoon se loopbaan hy of sy vir ‘n gemiddelde tydperk van 28 jaar tot een of ander vorm van aftreefonds bygedrae het, is dit onstellend om te dink dat die aftreekapitaal onvoldoende sal wees om vir die goue jare te sorg.”
"Dié realiteit is genoeg bewys vir werkgewers om in te gryp en die nodige ondersteuning en leiding te gee sodat werknemers ingeligte besluite oor hulle finansiële beplanning vir aftrede kan neem.”
Sedert die verskuiwing van vastevoordeel- na vastebydraefondse rus die verantwoordelikheid en die risiko vir aftreevoorsiening grootliks by die werknemer. "Dit is nie ideaal of prakties vir enige werkgewer om na die paternalistiese era van die tagtigerjare terug te keer nie, maar die huidige toestand is onbevredigend.”
"Die meeste werknemers is apaties oor aftreebeplanning en slegs tien persent van hulle hersien die aftree voordeelopsie wat hulle gekies het toe hulle by die fonds aangesluit het. Hulle beskou aftrede as in die verre toekoms en stel nie belang in die detail daarvan nie. Ons navorsing toon dat mense gemiddeld 12 jaar voor aftrede finansiële advies inwin,” sê De Villiers.
Berading ‘n ononderhandelbare
Hy sê dit is goed dat drie uit elke vier pensioenfondse wat aan die peiling deelgeneem het, aftreeberading verskaf, maar slegs 41 persent het ‘n teikenpensioen. " ‘n Eerste stap vir belanghebbende partye in die aftreebedryf (Trustees, voordele- en batekonsultante) is om toe te sien dat fondse so ingerig is dat dit die suksesvolle aftrede van alle lede ondersteun. Die struktuur van die voordele moet die werknemer aanmoedig om besluite te neem wat hulle tydens aftrede kan bevoordeel – sonder om voorskriftelik te wees of om die keuse van lede weg te vat. Talle meer werkgewers sal beradingstrategieë in plek moet stel.
"Ons navorsing wys op die behoefte aan veranderings in die regulering van die aftreebedryf en ons is uiters in ons skik dat die werk met Tesourie die gang gesit is – ons is ook bly dat ons ‘n rol kon speel deur hierdie navorsing wat ons doen om die probleme uit te wys. Realisties gesproke kan implementering eers oor ‘n paar jaar geskied, maar ons glo werkgewers kan op kort termyn ‘n aansienlike impak maak,” sê de Villiers.