Virseker is weereens aangewys as die bes-presterende produk in die korttermynversekeringsbedryf en is erken vir hulle voorsiening van ‘n standvastige en vertrouenswaardige ervaring van verbruikerstevredenheid.
Die navorsing is uitgevoer deur die Suid-Afrikaanse verbruikerstevredenheidsindeks (SA-csi) wat deur navorsingsfirma, Consulta, bestuur word. Die SA-csi bied onpartydige insae in die Suid-Afrikaanse korttermynversekeringsbedryf deur ‘n Verbruikersverwagtingsindeks, Waargenome Kwaliteitsindeks en ‘n Waargenome Waarde-indeks saam te smee om uiteindelik ‘n telling uit 100 te verkry.
Volgens die SA-csi, het verbruikers ‘n gemiddelde tevredenheidstelling van 76.7 uit 100 aan die korttermynversekeringsbedryf toegeken. Virseker het ‘n punt van 80.7 behaal.
“Die Suid-Afrikaanse versekeringsmark word deur ‘n paar groot organisasies oorheers. Hierdie organisasies geniet die voordeel van ‘n gestruktureerde ekonomie, groot versperrings tot toegang en dominansie oor kommoditeitsprodukte en -dienste. Om hierdie dominansie van gevestigde spelers aan te pak, neem Virseker leiding deur ‘n baie spesifieke verbruikersbehoefte te identifiseer, werksprosesse en hulpbronne daarop te fokus en hierdeur ‘n dominante posisie oor die nismark in te neem. Deur hierdie strategie foutloos uit te voer, bereik Virseker die tipe verbruikerstevredenheid wat ons in die SA-csi sien. Hierdie gedifferensieerde greep plaas Virseker in ‘n sterk posisie om te groei en uit te brei,” sê Professor Adré Schreuder, HUB van Consulta en Stigter & Voorsitter van SA-csi.
Virseker is in 2011 in die lewe geroep vir Suid-Afrika se Afrikaanssprekende gemeenskap. Tesame met die aanbieding van kwaliteit versekeringsprodukte, word ‘n persentasie van Virseker-polishouers se premies in die Virseker Trust geplaas en dan toegeken aan verdienstelike Afrikaanse onderwysinisiatiewe, na aan die hart van die Afrikaanssprekende gemeenskap. Tot op hede is meer as R30 miljoen ingesamel en aan organisasies – wat Akademia en die Vereniging van Afrikaanse Wiskunde-onderwysers insluit – toegeken.
Ricardo Coetzee, Hoof van Virseker, sê: “Hierdie toekenning is ‘n ongelooflike bevestiging dat ons op die regte koers is wat die verbruikerservaring wat ons bied, en die produkte en waarde wat ons voorsien, betref. Ons wil graag ons gewaardeerde kliënte bedank vir hulle terugvoer in die SA-csi-navorsing en dat hulle ons, vir die tweede jaar in ‘n ry, as nommer een aangewys het.”
Virseker is 'n produk van Auto & General Versekeringsmaatskappy Bpk, 'n gemagtigde versekeraar en finansiële-diensverskaffer.